Following the translation of Eliot’s “The Hollow Men” below (see Richard de Nooy’s Dutch translation of the first two sections in the comments section), here is Prufrock, translated into Afrikaans, 1988:
Die Minnesang van J. Alfred Preufrok
As ek gedink het dat my antwoord gegee word
aan enigeen wat ooit weer na die wêreld sal terugkeer,
sal hierdie vlam botstil staan sonder om verder te beweeg.
Maar aangesien, vanuit hierdie afgrond, nooit
iemand nog lewend teruggekeer het nie, as dit wat ek hoor waar is,
sonder vrees vir skande, antwoord ek jou.
- Inferno XXVII, 61 – 66
Kom ons gaan dan, ek en jy,
Wanneer die skemer uit teen die hemel sprei
Soos ‘n pasiënt ge-eter oor ‘n tafel;
Kom ons gaan, deur daardie half-verlate strate,
Die prewelende skuilplekke
Van rustelose nagte in eennag goedkoop hotelle
En saagsel restaurante met oester skulpe:
Strate wat volg soos ‘n lastige argument
Van arglistige voornemens
Om jou te lei, na ‘n oorweldigende vraag …
O, moenie vra: ‘Wat is dit?’
Kom ons gaan en doen besoek.
In die kamer kom en gaan die vroue
Hulle praat van Michelangelo.
Die geel mis wat sy rug teen die vensterbanke skuur,
Die geel rook wat sy snoet teen die vensterbanke skuur,
Het sy tong in die hoeke van die aand gelek,
Oor die poele wat in geute staan, gehuiwer,
Die roet van skoorstene op sy rug laat val,
Verby die terras geglip, skielik gespring,
En in die aangesig van ‘n sagte Oktober aand,
Om die huis gekrul en aan die slaap geraak.
En daar sal tyd wees, inderdaad,
Vir die geel rook wat deur die strate gly
Besig om sy rug teen die vensterbanke te vryf;
Daar sal tyd wees, daar sal tyd wees
Om ‘n gesig voor te berei om die gesigte te ontmoet wat jy ontmoet;
Daar sal tyd wees om te moor en om te skep,
En tyd vir al die werk en dae van hande
Wat ‘n vraag oplig en op jou bord laat val;
Tyd vir jou en tyd vir my,
En tyd vir ‘n honderd weifelings,
En vir ‘n honderd visies en re-visies,
Voor die instelling van ‘n heildronk en tee.
In die kamer kom en gaan die vroue
Hulle praat van Michelangelo.
En daar sal tyd wees, inderdaad,
Om te wonder: ‘Kan ek waag?’ en, ‘Kan ek waag?’
Tyd om om te draai en die trap te daal,
Met ‘n bles kol in die middel van my hare -
(Hulle sal sê: ‘Hoe yl word sy hare!’)
My oggendbaadjie, my kraag ferm teen my ken,
My das ryk en beskeie, maar bevestig deur ‘n eenvoud’ge speld -
(Hulle sal sê: ‘Maar hoe dun is sy arms en bene!’)
Kan ek waag
Om die heelal te versteur?
In ‘n minuut is daar tyd
Vir besluite en re-visies wat deur ‘n minuut omgekeer sal word.
Want ek het hulle almal al geken, almal geken -
Het die aande, môres, middae geken,
Ek het my lewe met koffielepels uitgemeet;
Ek ken die stemme wat met ‘n sterwende val sterwe
Benede die musiek van ‘n verre kamer.
So, hoe moet ek veronderstel?
En ek het die oë al geken, almal geken -
Die oë wat jou in ‘n geformuleerde frase vaspen,
En wanneer ek vasgepen is, gesprei oor ‘n speld,
Wanneer ek vasgepen en kriewelend teen die muur hang,
Hoe moet ek dan begin
Om al die stompies van my dae en weë uit te spuug?
En hoe moet ek veronderstel?
En ek het die arms al geken, almal geken -
Arms met armbande en wit en kaal
(Maar in die lampslig met ligbruin hare gedons!)
Is dit parfuum van ‘n rok
Wat my so laat afwyk?
Arms wat oor ‘n tafel lê, of ‘n tjalie omgooi.
En moet ek dan veronderstel?
En hoe moet ek begin?
* * * * *
Sal ek sê, ek het teen skemer deur die nou strate gegaan
En die rook gesien wat uit die pype styg
Van eensame mans in kortmoue, wie uit vensters leun?…
Ek moes ‘n paar knoesterige kloue gewees het
Wat oor die beddings van swygende seë skarrel.
* * * * *
En die middag, die aand, slaap so rustig!
Bestryk deur slank vingers,
Slapend … moeg … of dit verhoed,
Uitgestrek op die vloer, hier langs jou en my.
Moet ek, na tee en koek en roomys,
Die wil het om die oomblik te dwing tot krisis?
Maar, al het ek geween en gevas, geween en gebid,
Al het ek my kop gesien (nou liggies bles),
ingedra op ‘n skinkbord,
Is ek geen profeet – en dis geen groot saak;
Ek het die oomblik van my grootsheid sien flikker,
En ek het die ewige Kneg my jas sien vashou, en
giggel,
En in kort, ek was bang.
En sou dit werd gewees het, uiteind’lik,
Na die koppies, die marmelade, die tee,
Tussen die porselein, tussen gesprekke van jou en my,
Sou dit werd gewees het
Om die saak met ‘n glimlag af te gebyt het,
Om die heelal in ‘n bal te verwring het
Om dit na ‘n oorweldigende vraag te rol,
Om te sê: ‘Ek is Lasarus, t’rug van die dood,
T’rug om julle almal te vertel, ek sal julle alles vertel’ -
As een, besig om ‘n kussing reg te skuif,
Moet sê: ‘Dit is glad nie wat ek bedoel het nie.
Dit is glad nie dit nie.’
En sou dit werd gewees het, uiteind’lik,
Sou dit werd gewees het,
Na die sonsondergange en die agterplase en die besprinkelde
strate,
Na die novelles, na die teekoppies, na die rompe wat
oor die vloer sleur -
En dit, en soveel meer? -
Dit is onmoontlik om te sê net wat ek bedoel!
Maar asof ‘n towerlamp die senudrade in patrone teen
‘n skerm werp:
Sou dit werd gewees het
Terwyl een, besig om ‘n kussing reg te skuif of ‘n tjalie af te haal,
En besig om na die venster te draai, moet sê:
‘Dit is glad nie dit nie,
Dit is glad nie wat ek bedoel het nie.’
* * * * *
Nee! Ek is nie Prins Hamlet nie, ook nie bedoel om te wees nie;
Ek is ‘n assistent heer, een wat sal deug
Om ‘n vooruitgang aan te hits, ‘n toneel of twee te begin,
Die prins raad te gee; sonder twyfel, ‘n maklike hulpmiddel,
Veranderlik, bly om van hulp te wees,
Polities, versigtig en noulettend;
Vol hoë woorde, maar ‘n bietjie dom;
Ten tyde, inderdaad, amper lagwekkend -
Amper, ten tyde, die Dwaas.
Ek word oud … ek word oud …
Ek sal my broekspype opgerol dra,
Sal ek my hare van agter skei? Kan ek waag om ‘n perske te eet?
Ek sal wit flennie broeke dra, en langs die strand gaan wandel.
Ek het die meerminne hoor sing, elk vir elk.
Ek dink nie dat hulle vir my sal sing nie.
Ek het hulle seewaarts op die branders sien ry,
Besig om die wit hare van die teruggewaaide branders te kam
Wanneer die wind die water wit en swart waai.
Ons het in die kamers van die see getalm
By see-meisies in rooi en bruin wier gekrans
Totdat mense-stemme ons wek, en ons verdrink.
